ForeverMissed
Large image
Her Life

Erna my Baba-Sussie

January 20, 2013

Erna was die skattigste bondeltjie liefde as baba.  Sy het blonde haartjies gehad en as sy gehuil het was daar rooi spikkeltjies oral op haar voorkop. Sy het sulke mollige armpies en beentjies gehad.  Geen wonder my tannie Heather het haar "deegie" gedoop nie.  Sy was vreeslik lief vir haar lap padda (met mielies opgestop), haar doek en dummy.  Ek sal nooit vergeet hoe moeder gesukkel het op haar van daardie fopspeen af te kry nie.  Sy het die punt afgesny en gesê Ore (ons hond) het hom opgeëet.  Erna het haarself aan die slaap gehuil en ek onthou hoe vreeslik jammer ek haar gekry het.  So klein as wat sy was het sy die gewoonte gehad om as moeder haar in die bed sit "Baby Blue" te neurie tot sy slaap en as sy wakker geword het, het sy net haar Baby Blue verder geneurie.  Dan het moeder ommiddelik geweet sy is wakker. Omdat ons maar 'n twee jaar ouderdoms verskil gehad het, het ons alles saam gedoen.   Van speel, slaap, bad tot kattekwaad.  Onthou nog hoe ons Daniel (ons tuinjong - ook al lankal oorlede) toegesluit het in die buitekamer en na 'n lang gesmeek as ons hom oopmaak het hy ons sopnat gespuit.  Dit was altyd soveel pret.  Erna was ook vreeslik erg oor die huisbediende.  Sy het Erna altyd ge-abba op haar rug as sy vloere gewas het en ons geleer suurpap en marogo en pap eet.  Erna het net so vreeslik getreur toe sy die dag by ons weg is. 

Sy het altyd by moeder 'n sakkie gekry en dan die geel en swart kewers by die dosyne van die blomme afgehaal en in die sakkie gegooi en as sy gaan slaap het, het sy vergeet om die sakkie toe te hou en dan was dit net kewertjies waar jy kyk.