God sal jou vertroos.
Geseend is die wat treur, want hulle sal vertroos word. Mat 5:4
Nog 'n groep wat Jesus gelukkig noem, is hulle wat hartseer is. Die geluk in die hartseer le in die troos wat 'n mens kan kry. Mense wat sonder God treur, is troosteloos. Hulle het nie 'n vooruitsig dat hulle deur God self vertroos gaan word nie. Die mense van wie Jesus hier praat, is mense wat na God gaan met hulle stuk hartseer. Hierdie mense weet dat hulle hartseer beperk is, dat dit nooit vir altyd kan aanhou nie omdat daar 'n hemel vir hulle wag waar daar nie meer droefheid of trane sal wees nie. Hierdie treurendes ken die vertroosting van God se arms om hulle wanneer hulle hartseer is.
Hulle weet ook dat God die stuk hartseer in hulle lewe tot hulle beswil kan gebruik. As jy self swaargekry het, word dit 'n leerskool waarin God jou leer om op jou beurt ander mense te troos wat hartseer is. Jy gee die stuk troos wat jy van God gekry het weer deur na ander. "In elke moeilikheid bemoedig Hy ons. Daarom kan ons ook ander bemoedig wat in allerlei moeilikhede verkeer. Ons kan hulle bemoedig met dieselfde bemoediging waarmee God ons bemoedig" 2 Kor 1:4.
Is jy op die oomblik hartseer? Deel jou hartseer met God, Hy wil jou graag vertroos. En as Hy dit gedoen het, soek iemand anders wat hartseer is, en bied vir hom jou troos aan