ForeverMissed
Large image
His Life

Verjaar

February 24, 2012

Vandag sou jy 22 gewees het.  Ons mis jou Jaco.  Intussen het daar soveel dinge gebeur - ek glo jy weet van alles - veral die ou babatjie wat die grootste geskenk was.  Daar is nie een dag wat verby gaan wat ek weet dat jou ma, Mardi of Christof aan jou dink of iets met jou wil deel nie.  En ek dink Luan het hul net weer kom herinner hoe wonderlik en spesiaal elke mens is, hoe uniek elke mens is.  Geniet jou verjaardag by Jesus en weet dat jy vandag in elkeen van ons gedagtes en harte is. 

Koerant Berig geskryf deur Mamma

May 12, 2010

 

Jakkals tot rus gelê
 
“Dit was die trots van ons familie, ons eie tweeling ..., so ook alombekend in ons omgewing. As daar van die tweeling gepraat word, het almal geweet wie dit is. Nou is Jakkals weg en ons mis hom,” sê me. Marié Nortjé, wyle Jaco “Jakkals” de Jager se moeder, hartseer dat haar seun van haar af weggeneem is.
 
Jaco, beter bekend as Jakkals, is op Saterdagaand, 24 April oorlede, nádat ’n motorfiets waarmee hy gery het en ’n motor in Kriel gebots het. Jakkals is op 24 Februarie 1990 gebore en was ’n ywerige rugbyspeler.
 
Jakkals was een van ‘n identiese tweeling. Hy en boetie, Christof, verskil vyf minute en het beide hul laerskool loopbaan by Laerskool Krielpark voltooi. Jakkals was ’n kranige sportman en het aan atletiek, rugby, krieket en landloop deelgeneem en het ook provinsiale kleure in landloop verwerf.
 
Hy het gr. 8 by Hoërskool Hoogenhout in Bethal voltooi, waarna hy die res van sy hoërskool loopbaan op Kriel Hoërskool was. Hy het tydens sy hoërskool loopbaan net so goed op sportgebied presteer.
 
Voor Jakkals se dood was hy by Matla Steenkoolmyn werksaam en ’n lid van Kriel Rugbyklub, waar hy as regtervleuel vir die eerstespan gespeel het.
 
“Jaco sal onthou word as iemand wat sy lewe ten volle geniet het en nie sommer ’n kuiertjie saam met sy vriende misgeloop het nie. Hy het soveel mense se lewens aangeraak met sy borrelende persoonlikheid en lewenslus. 
 
Ek hoop dat elkeen wat hom geken het, ’n deeltjie van sy lewenslus met hul sal saamdra. Dit was die Here se wil om hom te neem. Ons verstaan nie die hoekom en waarom nie, maar glo Hy het ‘n groter plan met Jaco,” sê me. Nortjé, tevrede met God se wil.
 
Jaco is Vrydag, 30 April, vanuit die Hervormde Kerk in Kriel begrawe.
 
Hy laat sy stiefpa, Jaco, sy ma Marié, sy tweeling boet, Christof, en suster, Mardi, agter. LM
 
 

Jaco

April 28, 2010

Daar is net soveel seer in ons harte.  Jy en Christof is vir ons so spesiaal.  Julle liggies skyn oral waar jul gaan en jul is ons trots.  Dit is lekker om te sê "die tweeling" het dit of dat gedoen.  Julle prestasies was ook ons prestasies!

Jaco, ek glo jy is veilig in jou pa se arms, ek glo Tobie hou jou styf vas en het jou met oop arms verwelkom.  Ek glo jou ouboet is by julle. 

Terwyl Oom Jaco, jou ma Marié, Mardi en Christof agterbly en jou geweldig mis, so ook Arné, Henrico en Janco, jou nuwe boeties, weet dat ons na hulle kyk.  Ons mis jou Jaco.  Wees veilig in Jesus se arms.

En vir Christof wat sy spesiale band verloor het, ons kan nie weet hoe groot jou hartseer is nie, ek dink nie dis 'n band wat selfs deur die dood gebreek kan word nie.  Ons besef dat jy 'n GROOT gemis en leemte het in jou lewe.  Ons bid vir jou en weet jy mis jou boetie.

Mardi, jy sê jou grapjas boeta is weg.  So is jul elkeen baie spesiaal, talente en gawes.  Ons mis hom ook!

Ons is trots op jul al drie en baie baie lief vir julle.